Sabtu, 08 Oktober 2011

SIMMENTALER IN SUIDER AFRIKA

Die naam Simmentaler is afgelei van die vallei (“tal” in Duits) van die “Simme” rivier in Switserland. Dit word algemeen aanvaar dat die ras van die Aurochs (Bos Taurus primegenius), die inheemse beeste van Europa, afstam. Rekords wat uit die Middeleeue dateer verwys na die “rooi en wit beeste van Switserland” (Duerst). Simmentalers was teen die einde van die 19de eeu in groot getalle vanaf Switserland na buurlande sowel as Balkanstate en Oos-Europa uitgevoer. In die periode 1880 en 1887 alleen was daar sowat 95 000 Simmentaler te Thun stasie vir uitvoer in spoorwegtrokke gelaai (Switserse Federasie). Daar was ‘n groot aanvraag in Europa na hierdie driedoelras vanweë hulle voortreflike “produksie van melk, botter en vleis asook hulle bruikbaarheid as trekdiere” (Wagner).
Tans is daar ongeveer 30mil. Simmentalers in die wêreld wat onder name soos Fleckvieh, Abondance, Pezzata Rossa, Montbeliarde en Simmental bekend staan. Lande met die grootste populasie is die destydse USSR, Duitsland, Republiek van Joego Slawië, Oostenryk en Frankryk (WSF Federasie).
In Europa word die dubbeldoel eienskappe van die ras ten volle benut en alle koeie word gemelk. So byvoorbeeld is die gemiddelde melkproduksie van die 652 300 Simmentaler Kuddeboek koeie in Duitsland nie minder as 6 280 kg melk, 4,1% vet en 3,5% proteïen. Seuns van hierdie hoë melk produserende koeie wat op stoetveilings verkoop is, het 637 kg op 15 maande geweeg met ‘n daaglikse gewigstoename vanaf geboorte van 1.23kg wat beter is as die meeste spesialiteits vleisrasse in Suid Afrika.
Buite die Europese vasteland het die gewildheid van die ras sedert die laat sestiger-jare geweldig toegeneem, met amptelike Kuddeboeke wat in 14 lande gehou word. Hier word die ras veral vir vleisproduksie gebruik en is sy gewildheid te danke aan sy geskiktheid vir kruisteling. ‘n Wêreld Simmentaler Fleckvieh Federasie, met Suid Afrika as een van die stigterslande, is in 1974 gestig. Hierdie Federasie, met 29 ledelande en 100 000 geregistreerde telers is vandag, naas die Holstein, die grootste internasionale stoetbees Federasie.
Die Simmentaler Beestelergenootskap van Suidelike Afrika word deur die Wêreld Federasie erken as die enigste registrerende owerheid of instelling vir Simmentaler/Simbra in Suid Afrika en Namibië.
Dit begin in Namibië
Buite Europa, was Namibië die eerste land waar die ras suksesvol gevestig was. Eerste invoere is in 1893 deur die regering van die destydse Duitse Kolonie gedoen, wat invoer vir kruisteling bevorder het ten einde “die melk- en vleisproduksie van die inheemse diere” te verbeter (Stals). Die belangrikste rede vir die volgehoue voortbestaan en uitbreiding van die ras in die eerste helfte van die eeu was sy dubbeldoel eienskappe. Die produksie van melk en room het ‘n belangrike kontant inkomste vir beesboere verskaf (Stock). In die periode 1940 tot 1960 het die destydse Suidwes-Afrika met so te sê geen suiwel beeste, ‘n gemiddeld van 9,2 miljoen pond botter en 367 300 lb kaas per jaar geproduseer (Massmann). Volgens Rusch en Stock was hierdie suiwelprodukte hoofsaaklik deur Simmentaler en Simmentaler kruisings geproduseer.
Tans word die getal Simmentaler telers slegs deur die Brahman oortref (Namibia Herd Book). Meer as die helfte van alle stoettelers in Namibië wat met rasse van Britse en Europese oorsprong boer, teel Simmentalers.
‘n Namibiëse intterras toets, wat in die laat vyftiger-jare deur die Departement Landbou uitgevoer is, was wêreldwyd die eerste proefneming waar Simmentaler onder ekstensiewe vleis produksie toestande getoets is. Die uitstekende prestasie van die ras in hierdie proewe van tien vleisrasse oor ‘n periode van tien jaar was die hoofrede agter die bekendstelling van die ras in Noord Amerika, Argentinië, Australië en Suid Afrika (Massmann).
Suid Afrika (SA)
Die eerste Simmentalers is in 1905 deur President MT Steyn, die laaste President van die Vrystaatse Republiek na Suid Afrika (Onze Rust, Bloemfontein) ingevoer. Die diere word onder die naam “SWISS” by die SA Stamboek geregistreer. Dié aanpasbaarheid en reproduksie vermoë/hoedanighede van die ras het alle verwagtinge van President Steyn oortref en het sy Simmentaler kudde floreer ten spyte van die strawwe klimaatstoestande in die area met sy baie warm somers en uiters koue winters
(MT Steyn).
In SA het die ras ‘n minderwaardige plek ingeneem tot en met die vroeë sestiger-jare toe die uitslae van die voormelde interras toetse gepubliseer is. Die voortreflike prestasie van die ras in hierdie proewe, asook sy uitstaande prestasie by bulgroeitoetssentrums, het ‘n belangrike rol in sy toenemende gewildheid gespeel (Massmann). Dit het spoedig duidelik geword dat die aanvraag die aanbod oorskry het en in die periode 1960 tot 1970 is groot getalle na SA ingevoer, eers vanaf die destydse Suidwes Afrika en later Fleckvieh vanaf Duitsland en tot ‘n mindere mate vanaf Oostenryk. Vanaf Switserland en Frankryk was daar geen noemenswaardige invoer nie. Invoere het baie afgeneem as gevolg van die ontwikkeling van ‘n plaaslike aangepaste Simmentaler.
Telersvereniging
Telers in Namibië en Suid-Afrika het in 1964 ‘n telersvereniging vir Suidelike Afrika gestig. Vandag is hierdie jong telersvereniging, naas die Bonsmara (plaaslik sinteties) en Brahman (Seboe) in dieretal die derde grootste van 32 nie-suiwelrasse. Vergeleke met die 16 ander Britse en Europese nie-suiwelrasse het die Simmentaler nagenoeg drie keer soveel diere as die tweede belangrikste ras.
Die Genootskap se hoofdoel is om sy telers met omvattende dienste, vergelykbaar met die beste in die wêreld teen mededingende lokale pryse te voorsien. Benewens konsultasiedienste en jaarlikse plaasbesoeke behartig die Genootskap sy eie moderne registrasie- en wêreldberoemde Breedplan prestasie-aantekeningstelsel en dienste.
Unieke geldspaardiens
In enige teelstelsel, hetsy ekstensief of intensief, kommersieël of stoet, het reproduksie ‘n groter invloed op inkomste as groeitempo of enige ander eienskap. Daarom is die SIMmentaler rePROduksie (SIMPRO)-analise ontwikkel. Hierdie stelsel behels die kritiese ontleding deur die rasadviseur en eienaar van ‘n aantal reproduksiemaatstawwe van vroulike diere binne kuddeverband (omgewing). Simpro meet koeie se aanpasbaarheid, bepaal die korrekte koeigrootte, identifiseer die goeie teelkoeie, verskaf bestuurshulp, versnel genetiese vordering en kan die teler duisende rande spaar.
Bedryfsleier
Die Telersgenootskap word as vooruitstrewend gereken met nuwe programme om die bedryf te bedien. In die middel sewentigerjare was die ras die eerste om weg te beweeg van die subjektiewe metode van beoordeling deur prestasie en voorkoms in die skouring te verbind. Dit is die enigste ras Genootskap waar beoordelaars, ingevolge die Konstitusie, verplig is om reproduksiesyfers by plasings van koeie te gebruik. ‘n KI-bultoetsskema, plaasgroeitoetsskema vir die jong bulle en ‘n sterkoeiregister vir koeie wat uitblink is al in die tagtigerjare daargestel. Die bekende Simdeks-stelsel (SIMmentaler reproduksie inDEKS), wat interkalfperiode, ouderdom by eerste kalwing, getal kalwings en selfs embriospoelings in een syfer uitdruk, is in 1988 ingestel. Dit is ook die eerste telersgenootskap wat klasse vir prestasiegetoetste bulle (1979) en Blup-teelwaardeklasse (1999) vir bulle daargestel het.
Simsasionele prestasie
Hoe presteer die ras vergeleke met bekende prestasiegetoetste rasse (meer as 2 500 prestasiegetoetste vroulike diere – Beef Breeding in SA, 1993-98) synde Afrikaner, Beefmaster, Bonsmara, Brahman, Charolais, Drakensberger, Hereford, Nguni, SA Angus, Simbra en Sussex?
  • Reproduksie-indeks (TKP en ouderdom eerste kalwing) : 1ste
  • Speengewig: 1ste
  • Jaaroudgewig verse op plaas: 1ste
  • Voerkraalgroei (bulgroeitoetse intensief): 1ste
In die Nasionale Karkas kompetisie, waar karkasse van alle rasse en raskombinasies jaarliks op ‘n groot aantal skoue beoordeel word, was Simmentalers en Simmentaler-kruisings 11 uit ‘n moontlike 18 jaar die Suid Afrikaanse kampioene.
Modernste prestasietoetstegnologie
Objektiewe prestasie-inligting van duisende Simmentalers tesame met uitgebreide stamboomskakels, gekoppel aan moderne rekenaar-tegnologie, stel die Genootskap in staat om prestasie in ‘n waardevolle syfer, genoem BLUP-teelwaarde (TW), uit te druk. Die voorkoms van ‘n dier word bepaal deur omgewing (kos) en gene. BLUP skei omgewing van genetika en beraam slegs die geneties-oordraagbare gedeelte. Verwantskappe tussen diere speel ‘n sleutelrol in die bepaling van TWs en stamboomrekordhouding is noodsaaklik vir die bepaling van BLUP-TWs.
Die Genootskap maak van die wêreld se mees gevorderde vleisbees- genetiese evaluasiestelsel, nl. Breedplan, gebruik om teelwaardes (TWs) vir ‘n reeks belangrike eienskappe te prosesseer. Hierdie eienskappe dek gebiede van kardinale belang vir bulkopers, nl. gewig, melk, reproduksie en karkas. TWs is 5 tot 9 keer meer akkuraat as prestasie-indekse. Seleksie volgens gewigte en/ of indekse is geskiedenis en word nie meer aanbeveel nie.
Die bulkoper se vriend
Die ouderwetse “pa- en ma-sertifikate” van Stamboek is al in 1999 deur die Genootskap se eie moderne vyfgenerasie-prestasiesertifikaat vervang. Hierdie stuk papier is die kragtigste seleksie hulpmiddel vir die seleksie van Simmentaler bulle:
Om deurentyd genetiese verbetering in enige koeikudde te bewerkstellig moet die nuwe bul beter wees as die vorige een. Die enigste manier om dit te bewerkstellig is om na die TWs te kyk, omdat jy bulle hierdeur oor jare en kuddes kan vergelyk. TWs word op elke sertifikaat, amptelike veilingskatalogusse en die webbladsy aangebring, omdat dit die beste beraming is van die genetika wat ‘n dier aan sy nageslag oorgedra.
Sedert die Genootskap 38 jaar gelede ontstaan het, is keuring deur onafhanklike raskenners ‘n voorvereiste vir registrasie. In hierdie stelsel word daar sterk klem gelê op visuele eienskappe met funksionele meriete. Diere wat nie aan die vereistes voldoen nie en hulle nageslag ontvang nie ‘n sertifikaat nie. Die sertifikaat van ‘n Simmentaler is dus die bewys dat die dier, sowel as sy voorgeslag, volgens streng standaarde gekeur is.
Die bul is die belangrikste belegging wat die boer in sy kudde maak. ‘n Ongekeurde bul sonder teelwaardes kan hom duur te staan kom. Benutting van die Simmentaler teelwaarde en stamboomsertifikaat verminder hierdie beleggingsrisiko. Dring dus ALTYD aan op die sertifikaat.

0 komentar:

Posting Komentar

 
Design by Free WordPress Themes | Bloggerized by Lasantha - Premium Blogger Themes | Affiliate Network Reviews